Thursday, December 24, 2009

Die kosmos gloei oor Sy koms (geneem uit Beeld - 23/12/2009)

’n Klompie jare gelede, op soek na paslike Kersgeskenke, kom ons dié juweel teë - ’n skildery deur Frans Claerhout, getitel: Die hoenderhaan kondig die koms van Christus aan.

Op die voorgrond, eenkant na regs, die dawerende haantjie en effe agtertoe, in sagte Claerhout-kleure, ’n ouerpaar wat in allereenvoud versorgend na ’n kindjie in ’n krip omsien.

Die skildery was nie te koop nie, maar die “geskenk” is steeds by my - hoe Kersfees jou verruklik verplaas na die soort verbeeldingswêreld waarin kinders tuis is en sommige grootmense ietwat ongemaklik.

Soos in Jules Supervielle se sprokie oor hoe die lewende kosmos Christus se geboorte meegemaak het.

Hier vrylik oorvertel:

Die os en die donkie was saam met Josef en die swanger Maria op pad na Betlehem.
By die stal aangekom, het die os en die donkie begin stry oor wat hulle by die geboorte moet doen.

Toe die os sy asem oor die baba blaas om hom warm te hou, het die donkie gekla: “Moenie so naby aan hom kom nie. Jou horings gaan hom seermaak.”

En toe die donkie sy lang ore aanbied om die baba gerus te stel (soos ’n soft toy nou maar doen), berispe die os: “Moenie in sy gesig balk nie. Dit sal die baba se dood beteken.”

Ná baie stryery begin hulle verstaan hier is ’n groot ding aan’t gebeur.

Die os het gesien hoe die klippe, wat gewoonlik baie tyd nodig het om iets te verstaan, die wonder begryp.

Ook die veldblomme, die gras, die water en die lug het “geweet”.

Só vol vreugde was die os dat hy ophou eet het.

Hy het nie meer water gedrink nie en hy was bang om asem te haal - ingeval hy dalk ’n besoekende engel deur sy neusgate opsnuif.

Met die hulp van die os en die donkie het al die mak diere, die diere van die veld en al die goggas gekom om die kind in die krip te leer ken.

Die visse wat ’n bietjie sukkel met asemhaal op droë grond, het ’n seemeeu in hul plek gestuur.

Selfs die diere wat nog nie ontdek was nie en in die skoot van die aarde en in die see se maag op ’n naam gewag het, was gretig om te kom dagsê.

Maria het almal die klein stal laat binnekom: “My kind is hier net so veilig as in die hoogste hemel,” het sy ­gesê.

Die diere het elk iets van hulself by die kind agtergelaat - die voëls hul sang; die duiwe hul liefdespel; die bobbejane hul manewales; die katte hul manier van staar; die tortelduiwe die
sagte kleure van hul keelveertjies.

En die volstruis het stilletjies ’n eier gelê waarvan Josef, tot die donkie se verbasing, ’n omelet vir almal gemaak het.

Later het wyse manne uit die Ooste gekom om, saam met die heelal se atome, om die krip te versamel.

Die sterrebeeld van die bul het sy horings uit die hemelboog losgehaak en afgekom aarde toe.
Sodat sy lig oor die krip skyn terwyl ’n wolk in sy plek in die hemelruim wag gestaan het.

Ander vreemde dinge het ook gebeur.

Die skilpad het sy stadige gang versnel en haastig geraak.

Die blitsige likkewaan het stadig geword.

Die lomp seekoei het ligte kniebewegings gemaak en die papegaaie was doodstil.

Eensklaps het die sterrebeeld van die bul hoog in die lug gespring en hom, met een stoot van sy
horings, weer op sy ou plek vasgehaak.

Die ganse kosmos het gegloei van opwinding en asem opgehou oor die kind wat gekom het...

No comments: