Thursday, December 24, 2009

Wyse manne se moses (geneem uit Beeld - 23/12/2009)

Onderstaande is ’n fiktiewe Kerverhaal.

Verslag van ’n ondersoek na ’n reis deur drie lede van ons broederskap ná die verskyning van die helder ster in die weste.

Soos u weet, het die verskyning van die ster heelwat bespiegeling en uiteindelik ook hewige argumentvoering veroorsaak, maar ons het konsensus gekry om ’n afvaardiging te stuur.
Kaspar, Melchior en Balthasar is gevra.

Alle tekens was daar dat iemand belangrik gebore is in die stad Johannesburg in Suid-Afrika, ver aan die onderpunt van die kontinent Afrika.

Van die drie het net Kaspar teruggekeer. Dié verslag is voorlopig en ’n volledige een sal volg as Kaspar herstel. Tot dan is die volgende die feite van die reis.

Die drie het, soos die gebruik is, geskenke gedra.

Kaspar wierook, Melchior goud en Balthasar mirre. Hulle is in die koue hier weg. Ná ’n tyd het hulle die land bereik. Dit is beskryf as een met oop vlaktes, ’n wye lugkoepel en berge waar donderstorms soms opsteek.

Die buitewyke van Johannesburg is veilig en sonder ernstige voorvalle bereik. Vanweë hul kleredrag het hulle soms aandag getrek, hoewel Johannesburg deur Kaspar in ’n ligter oomblik beskryf is as ’n plek wat baie dinge gewoond is en waar hy met sy volle wyseman-uitrusting “in die hoofstraat sal kan aftrippel sonder om aandag te trek”.

Die drie is inderdaad vir enigiets van musikante en afgevaardigdes van kerkgroepe tot die oorblyfsels van partytjies aangesien.

Dit blyk dat Melchior ongelukkig die aandag van die plaaslike polisie getrek het. Hy is deurgesoek en die goud is aan hom gekry. Hy is om sy lisensie daarvoor gevra. Melchior was nie bewus van so ’n reëling nie en is in hegtenis geneem. Hy is steeds in aanhouding.

Kaspar kon nie vasstel wat van die goud geword het nie.

Hy en Balthasar is sonder Melchior vort na die huis waarheen die ster gewys het.

Die soeke na die huis was problematies. Johannesburg se strate is in vreemde patrone afgesper en is vreemd genoeg sonder name.

Die soektog het dringind geword en hulle het in die aand begin loop.

Hul geld was amper op omdat plaaslike blyplekke deesdae heelwat duurder is as wat aanvanklike navorsing aangedui het.

Vordering is een aand tot stilstand geruk toe Balthasar in ’n gat in die sypaadjie gestruikel het.

Hy het sy been beseer en die twee is gedwing om by plaaslike mense hulp te soek.

Die plaaslikes het wel gehelp, maar Balthasar se sakke ook deursoek. Dit lyk of hulle die mirre vir dwelms aangesien, hom aangeval en die mirre afgevat het.

Kaspar het probeer help, maar met min sukses. Van die plaaslike mense wou die polisie bel, maar kon glo nie kontak met die inbel-sentrum maak nie.

Omdat die tyd begin opraak het, het Kaspar besluit om op sy eie voort te gaan. Balthasar is op sy eie op pad terug.

En Kaspar het die huis gevind.

Ná verskeie gesprekke met hom is ek oortuig dat hy die regte besluit geneem het. Ek sal sê dit was beslis die huis waar die geboorte plaasgevind het.

Kaspar kon egter nie by die huis inkom nie. Die plek het ’n hoë heining van yster, skerp bo met lemmetjiesdraad.

By die hek was daar geen klokkie nie. Die inwoners van Johannesburg is traag om sulke klokkies te beantwoord en neig om hulle te verwyder.

Die effek van drie wyse manne in Oosterse klere kon ook nie verkry word nie. Daar was net een oor en die meeste van sy klere was in daardie stadium vuil of gesteel.

So het Kaspar toe teruggekeer met sy wierook.

Maar ons wéét daar was ’n geboorte. En ten spyte van sy wedervaringe is Kaspar vreemd vol hoop vir Johannesburg.

No comments: