Tuesday, December 22, 2009

’n Kruis en ’n bloedrivier (Geneem uit Beeld: 20/12/2009)

12/20/2009 9:23:00 PMReggie Nel

Versoening is ook konfronterend. Dit konfronteer ons met ons geskiedenis.

Wat maak ons byvoorbeeld met Bloedrivier of met Umkhonto weSizwe? ’n Kritiese uitdaging op die pad van versoening is om telkens weer die geskiedenis in die oë te kyk. Sommige sou wou hê dat ons bloot die geskiedenisboek moet toemaak. Ander leef in die verlede asof dit ’n tronk is waaruit mense nie kan ontsnap nie.

Hoe moet ons nuut met mekaar se geskiedenis omgaan? Een ding moet ons van die begin af erken: ons is geneig om net sekere kosbare gebeure te onthou en oor te vertel, terwyl ons ander vergeet of uitdoof – miskien vanweë pyn of verleentheid of bloot omdat ons kan.

Dit waaroor ons stilbly, is dikwels herinnerings wat nog seermaak. Ek sou wou hoop dat ons saam die geskiedenis in die oë kan kyk, vir genesing of versoening, anders sal dit in die toekoms by ons kom spook.

Dit is immers wat gelowiges doen as ons Kersfees vier. Ons vertel bekende stories oor en oor, ons sing liedjies daaroor, en elke jaar is ander kinders die herders of die wyse manne. Jaarliks ontwikkel ons nuwe insigte en sien nuwe kante van die storie raak. Dié vertellings en nuwe insigte vorm en vestig ons identiteit. Ons kry nuwe hoop.

Hoe kan Bloedrivier en Umkhonto weSizwe ons help? Geskiedkundiges sou ons kon help om te verstaan dat hierdie emosionele simbole geskiedenisse is. En dat die twee groepe se stories nie bloot skadeloos langs mekaar hardloop nie.

Stories word vertel om mekaar soms uit te rangeer of selfs dood te smoor. Maar die verskillende kante van die verhaal sou mekaar ook kon korrigeer, mekaar verryk en nuwe, ruimer insigte blootlê.

Neem die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier, wat vele kere vertel word asof dit bloot van een wit groepie se roemryke oorwinnings oor ’n ander is. Maar hierdie migrasie het ook bruin en swart mense ingesluit. En hierdie intrek in die land, vanuit die oogpunt van die inheemse bevolkings, het groot vrees en onsekerheid, maar ook ekonomiese ontworteling teweeggebring. Hul lewenswyse met die grond, met hul families, hul geloof, is gewelddadig ontwrig.

Hierdie patroon is nie uniek nie. Dit het al voorheen in ons geskiedenis gebeur en gebeur vandag nog. Die geskiedenis hiervan is egter gewoonweg vertel, geskryf en gevier, slegs vanuit die hoek van die oënskynlike wenners.

Daar is egter nog ’n element wat bykom: Die aanspraak dat God aan die kant van die oorwinnaars was, dié met die beter wapens, tegnologie of die beste politieke of militêre strategie. God, so word vertel, het hulle uitgekies en belowe dat hy vir hulle die oorwinning sal gee in hul poging om die ander te onderwerp of te “straf”. God seën hulle dus met die oorwinning en daarom ook die reg om hier te wees.

Dit is die grondslag vir die standpunt dat net sekere groepe spesiale Goddelike guns, roeping en bestaansreg het. Hulle sal in beheer bly totdat Jesus kom.

Dit is juis die God wat ook onreg seën en dit moontlik maak dat diep religieuse mense uiteindelik bedrieg, steel en moor. Kyk wat in Duitsland gebeur het, onder die wakende oog van die Duitse kerk met haar veelgeroemde teoloë; in Rwanda, eens die suksesverhaal van sending en herlewing; in Palestina, die “Heilige Land”. Selfs hier onder ons met die vreemdes “uit Afrika”.

Daar is egter ook die perspektief waar al ons stories, met al hul skete, mites en wonderwerke, deel word van ’n groter storie. Dis die storie van God se genadige omgang met sy mense.

Dit is ’n bloedgeskrewe geskiedenis, maar deur Gods unieke ingrype is daar in ’n krippie ’n kindjie wat gebore word, wat alles kom nuut maak deur sy eie bloedrivier wat vloei vanaf ’n verlate kruis.

Dis hier waar ook ons versoening ontvang, ’n nuwe identiteit en roeping – ons eie Versoeningsdag.

No comments: